Monday 17 October 2016

Ons vir jou, Suid-Afrika!

Gewoonlik sou ek my blog artikel in Engels doen sodat meer mense dit kan lees en verstaan. Maar die afgelope ruk het sekere gebeurtenisse in Suid-Afrika my laat besluit om hierdie artikel in Afrikaans te doen. Ons trotse Afrikaner kultuur is die afgelope ruk sonder ophou aangeval. Of dit nou in die parlement of by skole en universiteite is, ons kultuur en ons taal word konstant geteiken. "Dit is die taal van rassisme!" word uitgeroep tydens optogte. "Afrikaans moet val!" Wat bloot 'n opstand teen universiteitkostes was het 'n direkte aanval teen Afrikaans en die Afrikaner kultuur geword.

Ek het absoluut niks teen ander kulture en geloofsinstansies nie. Ek respekteer die waardes van ander kulture. Maar hoekom moet ek my eie kultuur en geloof opsy skuif omdat dit nie by die wêreldse norm pas nie? Hoekom moet my pragtige taal ly omdat die meerderheid dit nie praat nie? So terwyl die massas in ons land dit probeer onderdruk, laat ek julle my opinie gee.

My taal is my trots! Afrikaans is in my bloed. Dis in my murg en been. Dit is 'n taal waamee jy pragtige en skone beelde kan skep. My taal is die warm beker boeretroos vir my siel. Dit gee my 'n identiteit, een waarvoor daar jare lank baklei is. My taal is my eie. Dit is wie ek is. Niemand sal dit van my af kan wegneem nie!

My kultuur is in my ingevleg. Dit het 'n ryk geskiedenis. Van die werke van CJ Langenhoven wat ons pragtige Afrikaner volkslied geskep het tot die pragtige poësie van C. Louis Leipoldt, dit is deel van my. My kultuur is die koeksister wat soetheid aan my siel gee. Dit is 'n koele lafenis na 'n warm dag. Dit is kleurryk en pragtig!

Laat ons as Afrikaners nie vergeet wie ons is nie. Laat ons nie verder toelaat dat ons beeldskone taal en ryk kultuur onderdruk word nie. Laat ons vreesloos opstaan vir dit waarin ons glo. Laat ons saam as 'n Afrikanervolk opstaan, ons hand op ons hart sit en hard en duidelik uitroep: "ONS VIR JOU, SUID-AFRIKA!"


No comments:

Post a Comment