Friday 13 December 2019

Die Gelofte

"Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die Here is jou Bewaarder; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid." - Psalm 121
In 1838, nadat hy Piet Retief en sy manne by uMgungundlovu verraai en vermoor het, was die koning van die Zoeloes, Dingaan, vasbeslote om al die Trekkers in sy omgewing uit te wis. Hy het 'n mag van 10 000 Zoeloe krygers uitgestuur om die om-en-by 600 Trekkers onder leiding van Andries Pretorius uit te roei. Op die 9de Desember het Sarel Cilliers, onder leiding van Pretorius, 'n gelofte afgelê, een wat elke aand tot en met die Slag van Bloedrivier herhaal is:

Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring; en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Op die 15de Desember het die verkenners aan Pretorius gerapporteer dat 'n groot Zoeloe-mag na hulle oppad was. 'n Laer is getrek en almal is voorberei vir die aankomende aanval. Daardie aand het 'n digte mis op die area neergesak en het die volgende oggend eers met dagbreek gelig. Net na sonop het die Zoeloes met hulle aanval begin. Keer op keer het hulle regiment na regiment ingestuur maar kon nooit binne 40 meter van die waens kom nie. Toe Pretorius agterkom dat die Zoeloes hulle moed begin verloor het hy met 160 ruiters uitgery om die Zoeloes verder aan te vat. Die ruiters het eers teruggekeer nadat al hulle ammunisie gebruik was. In totaal het 3 000 Zoeloe krygers gesneuwel terwyl daar aan die Trekkers se kant net 3 beserings was. Die res van die Zoeloe-mag het op die vlug geslaan. Daardie aand, Sondag die 16de Desember 1838, was 'n dankdiens gehou om eer aan die Here te bring omdat Hy hulle gebed verhoor het.

Laat ons as Afrikaner nooit hierdie ongelooflike getuienis vergeet nie, en laat ons as mens nooit vergeet waar ons hulp vandaan kom nie!


No comments:

Post a Comment